Om te trou of nie te trou…

article1nl-JulyWanneer ‘n man die groot vraag vra aan die liefde van sy lewe en sy aanvaar, kan daar gesê word dat hulle ‘n kontrak aangegaan het om te trou in die toekoms.

Wanneer die verlowing egter verbreek word kom dit dikwels voor dat die verontregte party hul eks wil dagvaar vir die verbreking van die belofte om te trou oftewel troubreuk.

Onlangse regspraak ten opsigte van  troubreuk

Alhoewel daar  frustrasie en hartseer na die verbreking van die verlowing ervaar kan word, is die realiteit dat dit nie so maklik is om te slaag met ‘n monetêre eis teen iemand wat nie hul beloftes nakom nie.

Gemene Reg:

Oor die jare het ons gemene reg die beginsel dat die verontregte party ‘n eis het vir troubreuk erken. Tradisioneel bestaan die eis ​​uit twee dele:

  1. Die deliktuele eis wat die verontregte party sou hê onder  actio  injuriarum vir contumelia, met ander woorde, skadevergoeding vir die vernedering wat veroorsaak word as gevolg van die verbreking van die verhouding; en
  2. Die kontraktuele eis vir die werklike finansiële verlies gely deur die verontregte party as gevolg van die verbreking van die verhouding tussen die partye.

Van Jaarsveld v Bridges (2010) SCA:

In die Appèlhof saak Van Jaarsveld vs Bridges (2010) is bevind dat geen eis bestaan in Suid-Afrikaanse reg ​​anders as werklike uitgawes aangegaan in die beplanning en voorbereiding van die huwelik. Ten opsigte van troubreuk het Harms DP die aandag gevestig op ‘n hof se reg, en belangriker, plig om die gemene reg te ontwikkel, met inagneming van die belang van geregtigheid en op dieselfde tyd die gees, strekking en oogmerke van die Handves van Menseregte.

Harms DP huldig die standpunt dat daar nie sondermeer aanvaar kan word dat die partye wanneer hulle beloof om met mekaar te trou op daardie stadium van hul verhouding sou dink dat ‘n beëindiging van hul verlowing finansiële gevolge sou hê asof hulle in werklikheid getroud is nie. Die aanname van die twee partye is dat hulle huweliksbedeling sal bepaal word deur hul daaropvolgende huwelik. Harms DP het tot die gevolgtrekking gekom dat in sy opinie ‘n verlowing meer van ‘n onafdwingbare pactum de contrahendo is wat ‘n spatium deliberandi verskaf- ‘n tyd om mekaar beter te leer ken en om te besluit of partye uiteindelik wil trou met mekaar al dan nie.

ES Cloete v Maritz (2013) WCH:

Die vraag of die eis vir troubreuk ‘n geldige skuldoorsaak in die Suid-Afrikaanse reg is, is  weer vanjaar oorweeg in die Wes-Kaapse Hooggeregshof.

In die saak voor Regter Robert Henney het Mej. Cloete beweer dat Mnr Maritz die groot vraag gevra het in Namibië op die 9 Februarie 1999 met ‘n verloofring en sy het aanvaar. Die verhouding was onstuimig en ‘n dekade later het Maritz die verlowing verbreek en die daaropvolgende troue gekanselleer en haar vertel dat daar ‘n nuwe persoon in sy lewe is.

Cloete het Maritz gedagvaar en beweer dat Maritz se weiering om met haar te trou, neerkom op `n repudiasie van die ooreenkoms wat hulle 10 jaar vroeër gemaak het.

Haar eis:

Daar was drie aspekte tot Cloete se eis:

  1. Sy wou terugbetaling hê van R 26 000,00 wat sy aan hom gegee het in 1994 en 1996 vir ‘n besigheid waarin hy betrokke was.
  2. Sy wou R 6,5 miljoen hê om op te maak vir die finansiële voordele wat sy sou geniet het indien hulle voortgegaan het met die huwelik, insluitende bedrae vir die gebruik en genot van die huis in ooreenstemming met die lewenstyl wat  gehandhaaf is deur die partye tydens hul verhouding. Sy het ook onderhoud geëis van R 8500,00 per maand vir 25 jaar.
  3. Ten slotte wou sy R 250 000,00 hê as skadevergoeding vir die verbreking van sy belofte om te trou met haar; vernedering aan haar persoonlike waardigheid en haar reputasie.

Sy eis:

Maritz het die aantygings ontken en geargumenteer dat Cloete die een was wat die troue gekanselleer het en hy het dit bloot aanvaar.

Maritz het ‘n spesiale pleit geopper dat die “breach of promise to marry” nie ‘n geldige skuldoorsaak is in ons reg is nie gebaseer op die Appèlhof se uitspraak in Van Jaarsveld v Bridges 2010 (4) SA 558 (SCA), ‘n uitspraak wat hierdie hof verplig is om te volg.

Uitspraak:

In sy uitspraak het Regter R Henney gesê: ” Clearly, to hold a party accountable on a rigid contractual footing; where such a party fails to abide by a promise to marry does not reflect the changed mores, morals or public interest of today.”

Regter R Henney het verder gesê: “Dit is my mening dat oorwegings van openbare beleid en ons eie gemeenskap se veranderde gewoontes nie kan toelaat dat ‘n party gedwing word om toekomstige skadevergoeding te betaal op ‘n suiwer kontraktuele grondslag waar so ‘n party wil uittree uit ‘n persoonlike verhouding nie en geag word om troubreuk te pleeg nie. So ‘n situasie is na my mening heeltemal onhoudbaar en kan nie toegelaat word nie. “

Regter het verder gegaan: “As pointed out by Sinclair, The Law of Marriage Vol 1 (1996), to hold a party liable for contractual damages for breach of promise may in fact lead parties to enter into marriages they do not in good conscience want to enter into, purely due to the fear of being faced with such a claim.  This is an untenable situation.”

Slot:
Morele waardes en tye het verander. Egskeiding, was vroeër slegs beskikbaar in die geval van egbreuk of verlating, maar is nou beskikbaar in die geval van onherstelbare verbrokkeling van die huwelik. Daar is geen rede waarom die beëindiging van ‘n verlowing nie  die gebrek aan begeerte om met die betrokke persoon te trou as `n regverdige oorsaak vir die beëindiging van `n verlowing daar kan stel nie. Onwilligheid om te trou stel `n duidelike bewys van die onherstelbare verbrokkeling van die verlowing daar. Dit is onlogies om meer ernstige gevolge te heg aan ‘n verlowing as ‘n huwelik.

Maritz se spesiale pleit is gehandhaaf en daar is bevind dat die eis vir die verbreking van die belofte nie ‘n geldige skuldoorsaak in Suid – Afrikaanse reg daarstel nie. Soos blyk uit die bogenoemde,  bestaan daar slegs `n eis vir die werklike uitgawes aangegaan in die voorbereiding van die huwelik.

Bron:
Ronnilie Theron
Honey Attorneys

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Kliek hier om die volledige vrywaring te sien

Leave a Reply

Your email address will not be published.