Om Saam Te Woon : Die Risiko En Die Oplossing

Dit gebeur toenemend dat paartjies saamwoon voordat hulle in die huwelik tree (of dikwels saamwoon in die plek van die huwelik). Die mees onlangse wetsontwerp hieroor dateer uit 2008 (“the Domestic Partnerships Bill of 2008”) en dit is nog nie afgehandel of in werking gestel nie.

Dit is dus nodig om die huidige regsposisie in Suid Afrika duidelik te stel:  –

1.     Regtens bestaan daar nie ‘n gemeenregtelike huwelik nie (“Common Law Marriage”)

2.     Partye wat saamwoon moet eerder so gou moontlik ‘n formele “saamwoon ooreenkoms” sluit. Die risiko vir een of beide partye is net te groot om dit nie te doen nie.

Die risiko

Die Hoogste Hof van Appèl het onlangs uitspraak verleen in ‘n klassieke saamwoongeval en daarin word die noodsaak van ‘n ooreenkoms uitgewys.

  • ‘n Man en ‘n vrou het vir ‘n tydperk van sestien jaar saamgewoon, waartydens hul bates en inkomstes gesamentlik aangewend is. Hulle het ‘n enkele, gesamentlike huishouding gedeel en beide het hul onderskeie bydraes tot hierdie gesamentlike huishouding gemaak.
  • Me S het vir Mnr P bygestaan met sy verskeie sakebedrywighede. Met die verloop van jare het sy deurentyd inkomste wat sy verdien het en ook die opbrengs uit die verkoop van haar meubels en voertuig, bygedra vir die betaling van gedeelde huishoudelike uitgawes.
  • Gedurende die saamwoonverhouding was Me S voorgehou as die verloofde, daar is vir haar gesê dat daar na haar omgesien sou word en dat “wat myne is, is joune”. Op ‘n aansoek vir verblyf in ‘n aftree-oord het Mnr P vir Me S ook aangedui as sy gade.
  • Toe die saamwoonverhouding na sestien jaar wel tot ‘n einde gekom het, is Me S vir alle doeleindes sonder enigiets gelaat.

Die toekenning van 35%  

Wat staan Me S te doen? Die enigste manier waarop ‘n lewensmaat in Me S se posisie ‘n aanspraak op die gedeelde bates sal kan vestig, is om die bestaan van ‘n universele vennootskap te bewys. Dit is nie maklik nie en die volgende moet in geheel bewys word: –

1.     Elke party het iets tot die vennootskap bygedra, en

2.     Die vennootskap is tot wedersydse voordeel aangewend, en

3.     Die vennootskap moet ‘n winsoogmerk hê.

As gevolg van hierdie vereistes gebeur dit ongelukkig dikwels dat een van die lewensmaats sonder enigiets gelaat word, selfs na ‘n dekade-lange verbintenis en verhouding. In hierdie spesifieke geval het die ander party die bestaan van die vennootskap ten sterkste ontken. Dit het aanleiding gegee tot uitgerekte litigasie wat uiteindelik na jare in die Appèlhof geëindig het. Hier kon Me S die hof oortuig dat daar wel ‘n universele vennootskap tot stand gekom het, al was die vennootskap stilswyend gesluit en oor die jare deur die partye in stand gehou. Die Hoë Hof se oorspronklike toekenning van 35% van die vennootskapsbates aan Me S is gevolglik deur die Appèlhof goedgekeur en bekragtig.

Die oplossing

Dit sou in beide partye se belang gewees het om uit die staanspoor ‘n formele ooreenkoms te gesluit het om hul saamwoonverhouding te reguleer. Of ten minste so ooreenkoms te gesluit het op die stadium toe dit duidelik geword het dat die partye in ‘n ernstige en langdurige saamwoonverhouding gaan bly. Dit hoef dus nie op dag een te gebeur nie. Na ‘n jaar moet die partye darem ‘n plan maak. Die alternatief is dikwels ‘n toekomstige regsdispuut, bitterheid, vertragings, verspilde regskostes, intense teleurstelling en hartseer – en heel moontlik armoede vir die verloorder.

Indien u enige navrae het kontak asseblief vir Jacques du Toit by jacques@gtlaw.co.za of op 028 3123626.

© DotNews, 2005-2012. This newsletter is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice.

Leave a Reply

Your email address will not be published.