Category Archives: Eiendomsreg

Is daar beperkings op eiendomsreg?

A1Dit is ‘n algemene beginsel in die sakereg dat eiendomsreg nie absolute en onbeperkte inhoudsbevoegdhede aan ‘n eienaar verleen nie, maar dat daar verskeie beperkings daarop bestaan in belang van die gemeenskap en ten gunste van ander persone.

Die belangrikste beperking op die eienaar in belang van die gemeenskap in die algemeen is geleë in die betaling van belasting aan die staat ten opsigte van sekere roerende en onroerende bates. In die geval van onroerende bates bestaan daar verskeie maatreëls om grond tot die beskikking van ‘n groter deel van die gemeenskap te stel, wat impliseer dat herstel van grondregte en grondverskaffing verskeie onteieningsmaatreëls noodsaak. Voorts bestaan daar verskeie maatreëls met betrekking tot omgewingsbewaring en fisiese beplanning wat in die belang van die gemeenskap beperkings op ‘n eienaar se inhoudsbevoegdhede tot gevolg het. Beperkende maatreëls met betrekking tot onroerende bates is hoofsaaklik gebaseer op die verbod op die gebruik van sodanige goedere tot nadeel van die gemeenskap, soos byvoorbeeld in die geval van motorvoertuie, vuurwapens en afhanklikheidsvormende stowwe.

Daar bestaan ook beperkings wat nie primêr op die belange van die gemeenskap gerig is nie, maar wat die uitoefening van ‘n eienaar se inhoudsbevoegdhede beperk in belang van ander individue. Die bekendste voorbeeld hiervan is die burereg, wat bepaal dat die grondeienaar nie sy grond sodanig mag gebruik dat dit ‘n onredelike las of nadeel vir bure inhou nie. Die redelikheidsmaatstaf bepaal in hierdie omstandighede dat ‘n eienaar van onroerende eiendom sy eiendomsbevoegdhede binne redelike perke mag uitoefen, en dat die buureienaar of okkupeerder die eienaar se eiendomsbevoegdheid binne redelike perke moet verduur.

Ander voorbeelde van die toepassing van die redelikheidskriterium in die geval van burereg is die verpligting tot sydelingse en oppervlaktesteun, maatreëls met betrekking tot geboue wat erfgrense oorskry, die wedersydse verpligting ten opsigte van natuurlike afvloei van water en die bekamping van gevare.

Ander persone benewens die eienaar kan ook bepaalde inhoudsbevoegdhede (byvoorbeeld gebruiksregte) ten opsigte van onroerende of roerende bates van die eienaar verkry. Houers van beperkte saaklike regte verkry inhoudsbevoegdhede ten opsigte van die saak, wat die eienaar se eiendomsreg op die saak beperk deurdat dit ‘n las op die saak teweegbring. Sulke beperkings is dus nie net teen die eienaar afdwingbaar nie, maar ook teen alle daaropvolgende eienaars van die saak. Sekere vorderingsregte van persone teen die eienaar kan ook tot gevolg hê dat sodanige regshebbendes inhoudsbevoegdhede ten opsigte van die saak verkry. Aangesien die vorderingsregte egter net teen die eienaar persoonlik afdwingbaar is en nie ‘n saaklike las tot gevolg het waardeur die saak beswaar word nie, is dit nie teen daaropvolgende eienaars afdwingbaar nie.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Verhuurders – Kyk weer na daardie borgakte!

Met die verhuring van kommersiële eiendom aan regsentiteite, is dit raadsaam om ook ‘n borgakte van die direkteure aan te vra. Dit is belangrik dat die borgakte duidelik is oor die verpligting wat die direkteure op hulself neem, indien die regsentiteit nie in staat is om die huurgelde te betaal nie.

Die bepalings van ‘n borgakte word beperkend uitgelê. Ons howe sal die net van aanspreeklikheid dus nie wyer as die bewoording van die borgakte gooi nie. Die uitdruklike bewoording van die borgakte is kritiek om aanspreeklikheid te bepaal, vir beide die perseel en vir die termyn van die huurkontrak.

Die eerste borgkontrak is nie oordraagbaar nie.

‘n Korporatiewe huurder het drie opeenvolgende huurkontrakte vir dieselfde perseel gesluit. Met die sluiting van die eerste huurooreenkoms het die verhuurder daarop aangedring dat die direkteur van die huurder ook ‘n borgakte teken om betaling te waarborg. Na die verstryking van die huurtermyn het die eerste huurooreenkoms tot ‘n einde gekom. Die entiteit het die perseel weer vir twee opeenvolgende huurtermyne gebruik en gehuur. Die verhuurder was onder die indruk dat die borgakte nog in plek was. Toe die huurder nie die betalings in stand gehou het nie, het die verhuurder teen die direkteur as borg opgetree en het op die oorspronklike borgakte gesteun.

Die Hoë Hof neem die aangebode dokumentasie in ag en die uiteinde is verligting vir die borg. Die verhuurder het aanvaar dat die oorspronklike borgooreenkoms outomaties saam met die huurooreenkoms hernu en verleng word. Die hof bevind egter anders. Die hof bevind dat die verhuurder nie die verlenging kan inlees as dit nie uitdruklik in die borgooreenkoms vervat is nie. Aangesien dit nie ondubbelsinnig in die ooreenkoms verskyn nie, word die direkteur van die borgverpligting onthef.

© LawDotNews is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Die Vakansiehuis Wat Gedeel Word – Uitdagings Vir Gesamentlike Eienaars!

Oorweeg jy dit om ‘n vakansiehuis saam met ander gesinne te koop? Gedeelde eienaarskap het sy voordele. Ten spyte van julle goeie verhouding, maak dit sin om vanuit die staanspoor voorsiening te maak vir die hantering van toekomstige verskille.

Dit is algemene gebruik om ‘n gedeelde vakansiehuis in ‘n maatskappy te hou, met die verskillende ”eienaars” wat aandele en direkteurskappe in hierdie maatskappy hou. Dit behoort duidelik te wees dat jy hier met ‘n behoorlik opgestelde aandeelhouersooreenkoms moet begin. Continue reading