Category Archives: Liquor Law

Is sjebeens wettig?

A2_GTOns weet almal van sjebeens, tog is dit ‘n digbewaarde geheim omdat dit as ‘n onwettige besigheid beskou word. Ons bespreek sjebeens en wat dit behels hieronder.

Sjebeens was township kroeë en kantiens wat hul ontstaan tydens Apartheid gehad het toe die Drankwet van 1927 Swartmense en Indiërs verbied het om alkohol te verkoop of gelisensieerde persele te betree. Ten einde ‘n inkomste te verdien, het baie Swart vroue hul gewend tot hul vroeëre vaardighede as bierbrouers. Die vroue, wat bekend geword het as “sjebeen queens”, het bier gebrou en aan trekarbeiders verkoop wat nie die westerse bier kon bekostig nie, of wat steeds die tradisionele bantoebier1 verkies het.

In 2015 bestaan sjebeens nog steeds; die sensasie daarom het egter heelwat afgeneem sedert Apartheid in 1994 tot ‘n einde gekom het en almal toegelaat is om gelisensieerde persele te betree. Dit is ook minder in die kollig noudat dit nie meer onwettig is om ‘n sjebeen te besit of daar te werk nie, solank die eienaar om ‘n lisensie aansoek doen en slegs alkohol verkoop wat wettiglik vervaardig en aan die publiek voorsien mag word.

Die Drankwet van 1989 stipuleer dat geen persoon enige konkoksie wat vervaardig is deur die fermentasie van melasse, suiker of ander bestanddele bekend as isityimiyana, hopana, qediviki, skokiaan, uhali of barberton, enige konkoksie soortgelyk daaraan of enige drankie wat van een van hierdie konkoksies gedistilleer word, mag vervaardig, besit, verbruik, verkoop, voorsien of gee aan ‘n ander persoon nie.

Dit is onwettig om alkohol te verkoop tensy u ‘n dranklisensie het wat deur die Drankraad toegestaan is. Daar is twee soorte lisensies:

  • ‘n “Binneverbruik” lisensie wat die verkoop en verbruik van alkohol op gelisensieerde persele toestaan. Hierdie soort lisensie word normaalweg aan hotelle, klubs, teaters en restaurante toegestaan. Tydelike lisensies mag ook uitgereik word om die verkoop en verbruik van alkohol by byvoorbeeld sportbyeenkomste of kermisse toe te laat. ‘n Geleentheidslisensie stel ‘n lisensiehouer in staat om alkohol na besigheidsure te verkoop.
  • ‘n “Buiteverbruik” lisensie laat die verkoop van alkohol toe wat weg van die perseel verbruik sal word. Voorbeelde van sulke persele is winkels, alkoholprodusente en drankwinkels.

Oor die algemeen sal ‘n lisensie nie toegestaan word aan enigiemand wat in die 10 jaar voor die aansoek om ‘n lisensie tronkstraf ontvang het sonder die keuse van ‘n boete nie. Oortredings van die Drankwet mag ‘n persoon ook diskwalifiseer van die verkryging van ‘n lisensie. In beide gevalle mag ‘n lisensie egter toegestaan word indien die betrokke gesagsliggaam reken dat die oortredings die aansoeker nie ongeskik maak om ‘n lisensie te besit nie.

Die Drankwet 59 van 2003 herroep die Wet van 1989 slegs in daardie provinsies wat provinsiale drankwetgewing gepromulgeer het (huidiglik Oos-Kaap en Gauteng).

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)